massaverskuiwing of -verplasing, swaartekragverplasing — Afrikaans
Die afwaartse storting, glying of kruiping van los verweringsprodukte of -puin (kyk “erosion”). Daar is talle wyses en redes wat tot so-iets aanleiding kan gee, maar die mees algemene veroorsakende faktore is swaartekrag, oorskryding van die rushoek, belading en waterversadiging. ’n Hoop puin – wat gesorteerde materiaal, soos in die geval van mynhope, of ongesorteerde materiaal, soos die massa materiaal wat deur ’n gletser afgeset is – mag wees, sal ophoop en tot ruste kom in ’n hoop met kanthellings wat ’n sekere hoek met die horisontaal vorm. Hierdie hellingshoek is die rushoek van die materiaal. Vir natuurlike materiaal (soos verweringspuin) is die rushoek gewoonlik minder as 35˚. Indien die kanthellings van die hoop steiler as die rushoek is, sal die hoop ineenstort en tot ruste kom wanneer die kanthellings minder steil hel. Waterversadiging van die materiaal is natuurlik uiters belangrik. Vergelyk ’n sandhoop wat met relatief droë sand op die strand gebou is met ’n hoop wat met nat sand gebou is. Die hoop wat met die droër sand gebou is, sal steiler hellings vertoon as dié een wat met die nat sand gebou is. ’n Klein kindjie sal waarskynlik bo-op die hoop wat met die droër sand gebou is, kan sit sonder dat die hoop ineenstort, maar dieselfde kind sal die hoop wat met nat sand gebou is, laat ineenstort. Die kind is die “belading”, dit wil sê die massa (gewig) wat die hoop sand kan weerstaan. ’n Groter kind (dws lading) sal selfs die hoop droë sand laat swig. As water versigtig oor die hoop droër sand uitgegiet word, sal die hoop ineenstort tot ’n baie laer hoop met vlakker hellende sye (kanthellings). Dit bewys dat waterversadiging ’n uiters belangrike faktor in hellingstabiliteit is. Hoewel swaartekrag konstant bly, sal ’n verandering in óf die belading óf die vlak van waterversadiging van die hoop materiaal tot ’n verandering van die rushoek lei en die hoop sal swig, gly, stadig minder steil word, of oombliklik ineenstort. Rotsstortings, grondverskuiwings en modderstortings is skielike, dramatiese gebeurtenisse wat dikwels dramatiese, skielike gebeurtenisse wat tot die verlies van lewens en eiendom lei en landskappe onomkeerbaar verander. In ons moderne, ingenieurs- en ekonomiese lewens, word die onveranderbare rol van natuurkragte dikwels verontagsaam, en dit kan tot katastrofes vir baie mense lei. Waarskynlik is die bekendste voorbeeld van skrikwekkende lewensverlies as gevolg van massaverplasing die Aberfan-insident wat in 1966 in Wallis, Groot Brittanje, plaasgevind het. ’n Reuse hoop mynbou-uitskot wat reg langs ’n skool geleë was, het as gevolg van langdurige reën oorversadig geraak en eenvoudig bo-oor die skool gevloei en al die kinders en onderwysers begrawe. Suid-Afrika het ook ’n aantal antropogene (mensgemaakte) massaverplasingsinsidente om as duur en soms tragiese voorbeelde te dien. Een van die mees bekende skouspelagtige roetes in die wêreld is Chapman’s Peak-weg om die skiereiland onmiddellik suid van Kaapstad. Hierdie pad is gebou deur die steil hellings van die skiereiland te ondergrawe en daardeur die natuurlike stabiliteit van die hellings te versteur. Die gevolg was dat rotse voortdurend afwaarts na die pad tuimel. Reuse bedrae is onlangs spandeer om die pad as sodanig teen rotsstortings te beveilig, maar ná langdurige reënbuie moet die pad steeds soms gesluit word om ongelukke te voorkom en puin van die padoppervlak af te verwyder. ’n Alom- en altydteenwoordige vorm van massaverskuiwing is grond-kruiping (of grondkruip) wat die stadige, voortdurende afwaartse “kruiping” van die grondlaag oor ’n vlakhellende oppervlak, wat teen so min as drie grade (3˚) kan hel, is. Dit is ’n normale natuurlike erosieproses, maar menslike aktiwiteite soos beweiding (veral oorbeweiding) en akkerbou kan hierdie proses tot so ’n mate versnel dat reuse oppervlakke vrugbare landbougrond vandag onproduktief lê.