ISO 14000 — Afrikaans

Die internasionaal aanvaarde omgewingsbestuurstandaarde en beste-praktyk omgewingsmikpunte wat as gids vir alle omgewingsbestuursbesluitneming en omgewingsvolhoubare ontwikkelingsaktiwiteite dien. Alle ontwikkelde lande en baie van die ontwikkelendes het een of ander standaardeliggaam. Tog onderwerp al hierdie standaardeliggame hulle aan die gesag van die Internasionale Standaarde Organisasie (ISO) en in baie gevalle gebruik hulle die ISO se standaarde wat omgewingsbestuurstandaarde in die huidige geglobaliseerde wêreld betref, word die ISO se standaarde universeel gebruik. Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) is ’n hoogaangeskrewe instansie wat reeds oor baie dekades heen talle standaarde onafhanklik ontwikkel het, maar wat standaarde vir omgewingsbestuur en -besluitneming betref, gebruik selfs die SABS die ISO-standaarde. Die ISO se omgewingstandaardereeks is die ISO 14000-program wat onderlê word deur die effens ouer ISO 9000-reeks vir goeie praktyk. Aangesien die hele wêreld die ISO 14000-reeks (en deesdae die nuwer ISO 14001-reeks) vir omgewingsbesluitneming gebruik, word internasionale samewerking, oorgrens-aktiwiteite en oorgrens-ontwikkeling grootliks vereenvoudig. Indien dit nie die geval was nie, sou die groeiende aantal oorgrens-wildernisgebiede en oorgrens-natuurreservate wat deesdae baie winsgewende ondernemings in die toerismebedryf is, nie werklik ’n haalbare opsie gewees het nie.