habitatverwoesting, habitatvernietiging — Afrikaans

’n Beduidende of totale verandering van die organiese gemeenskap en/of die anorganiese komponente wat in ’n spesifieke plek op ’n sekere tyd voorkom, en ’n ekosisteem vorm (kyk “ecosystem”, “ecology”en “extinction”). Die organismes (diere, insekte, plante, mikrobe en selfs die mense wat op daardie spesifieke tyd in ’n sekere plek woon) vorm ’n gemeenskap en ’n netwerk van interafhanklikheid. Al die dier- en plantorganismes in ’n ekosisteem is goed aangepas by die toestande wat die anorganiese komponente (gesteentes, grond, water, atmosferiese temperature, tipe klimaat, ensovoorts) hulle bied. Wanneer ’n verandering so ernstig en/of vinnig is dat die organismes nie by die nuwe omstandighede kan aanpas nie, moet die dierlike gemeenskap wegtrek of uitsterf (kyk “extinction”). ’n Habitat kan stadig of vinnig deur die natuur self verander of vernietig word. ’n Voorbeeld van ’n stadige natuurlike verandering is die intrede van ’n ystydperk wat ’n normale natuurlike klimaatsveranderingsproses is (kyk “climate change”). ’n Voorbeeld van vinnige, natuurlike habitatverandering is ’n vulkaniese uitbarsting of ’n meteorietimpak, maar sulke gebeure is uiters raar. Veranderings wat deur menslike aktiwiteite veroorsaak word (antropogene oorsake), vind in geologiese tyd vinnig plaas, hoewel dit vir ons in menslike tyd stadig is. Vergelyk die tempo waarteen ’n laaigraaf ’n hoop sand verskuif en die koers waarteen natuurlike erosieprosesse ’n massa verweringsreste verskuif (kyk “erosion”). Mense veroorsaak enorme habitatverwoesting deur middel van die oprigting van geboue, die skepping van nedersettings, die installering van rioolstelsels, padbou, die verwydering van plante waar konstruksie moet plaasvind, die dreinering van vleilande (kyk “wetlands”), die omskepping van grasvelde tot landerye, en so meer. In sodanige gevalle is die habitatvernietiging duidelik sigbaar en miljoene hektaar land oral oor die wêreld is reeds onomkeerbaar verander en die natuurlike habitatte van miljoene dier- en plantspesies is al vernietig. Daar is egter minder opsigtelike aktiwiteite wat ewe of selfs meer skadelik vir die omgewing is. ’n Gholfbaan of selfs erger – ’n gholflandgoed – is ’n tipiese voorbeeld. Uit ’n omgewingsoogpunt is gholf ’n groter bedreiging vir die omgewing as wat jag is. Die groen setperke, die eilandjies van natuurlike endemiese bome, of ten minste inheemse bome, en die oorblyfsels van die natuurlike plantegroei tussen die setperke en die kunsmatige stroompies lyk so bekoorlik dat die gholfspelende publiek nie eers aan die habitatverwoesting wat gepleeg is, dink nie. Die aanlê van ’n gholfbaan of ’n gholflandgoed beteken die totale vernietiging van ’n natuurlike habitat! Wanneer ’n natuurlike habitat onderverdeel word en daar slegs eilande van die oorspronklike habitat tussen die setperke oorbly, het habitatfragmentering (kyk “extinction”) plaasgevind wat die vernietiging van die hele natuurlike ekosisteem kan meebring. Habitatvernietiging en -fragmentering het oor honderde jare meer spesie-uitsterwing tot gevolg gehad as enige ander menslike aktiwiteit. Duisende spesies het uitgesterf as gevolg van habitatverlies. Die meeste van die spesies in die Rooidatalyste (publikasies waarin die krities bedreigde, ernstig bedreigde, en bedreigde spesies opgeteken word) staan die gevaar om uit te sterf as gevolg van habitatfragmentering of -verlies. Die panda-beer (wat die simbool van die Wêreld Natuurlewe Fonds [WWF] geword het) is krities bedreig as gevolg van habitatverlies. Habitatverlies en niks anders nie, is die rede waarom twee van die mees bedreigde spesies in Suid-Afrika, naamlik die Brenton Blou-skoenlapper en die Blouswaeltjie, waarskynlik sal uitsterf. Die bedreigde spesies wat die meeste media-aandag geniet, naamlik die swart- en witrenoster, is egter op die randjie van uitsterwing as gevolg van wildstropery en jag, nie as gevolg van habitatverlies nie.