aardverwarming — Afrikaans

Die algemene verhoging van die globale temperature oor ’n tydperk van ten minste ’n aantal dekades. Die algemene mening is dat hierdie temperatuurverhoging toe te skryf is aan ’n toename in die konsentrasies van die sogenaamde “kweekhuisgasse” (soos CO2, CO en metaan [CH4]) wat deur menslike aktiwiteite in die atmosfeer vrygestel is en word. Hierdie gasse “keer” die langgolfaardstraling “vas” en gevolglik behou die Aard-atmosfeersisteem meer hitte-energie as wat dit sonder die kweekhuisgasse sou doen. Die teorie aanvaar dat die globale klimaat tans teen ’n hoër as die normale koers verander en dat warmer toestande nou oral op die Aarde voorkom as wat ’n honderd jaar gelede die geval was. Dit beteken nie dat die daaglikse temperatuur oral op Aarde merkbaar hoër as 50 of 100 jaar gelede is nie, gevolglik is globale verwarming moeilik om te bewys want daar is altyd abnormaal koue temperature (soos die atipies koue winters van 2010-2011 en 2012-2013 in Europa en Noord-Amerika) wat voorkom en die teorie van verwarming bevraagteken, maar die gemiddelde temperature oor die afgelope 30 jaar skyn tog hoër as 100 jaar gelede te wees. Hierdie stadige klimaatsverandering word grootliks toegeskryf aan antropogene (mens-gemaakte) aksies soos die vrystelling in die atmosfeer van groot volumes koolstofryke verbindings (kyk “air pollution”), maar om hierdie aannames te bewys, is uiters problematies en almal is nie oortuig van die juistheid daarvan nie. Die globale klimaat is inderdaad besig om te verander, maar dit is ’n normale proses wat herhaaldelik (eintlik voortdurend) oor duisende jare voorgekom het. Die huidige fase van verwarming word dikwels toegeskryf aan menslike aksies wat lugbesoedeling as gevolg van die verbranding van fossielbrandstowwe veroorsaak, terwyl sommige geloofwaardige wetenskaplikes meen dat menslike aktiwiteite slegs ’n klein tot nietige invloed het vergeleke met die natuurlike oorsake van verandering. Statistieke toon onweerlegbaar dat die konsentrasie CO2 (koolstofdioksied) in die atmosfeer ongeveer 15% hoër is as wat dit in 1890 was en dat die temperatuur op Aarde gedurende die twintigste eeu met 0,5˚C gestyg het, maar die oorsake is glad nie duidelik nie. As gevolg van industrialisasie is enorme volumes kweekhuisgasse sedert die 1850’s in die atmosfeer vrygestel, maar die vraag is of dít die hoër atmosferiese temperature veroorsaak. Hoewel dit nie bewys kan word nie, word dit grootliks aanvaar. Aangesien aardverwarming ’n magdom ernstige impakte op menslike bestaan op Aarde kan inhou, neem ons dit ernstig op en die een internasionale konferensie ná die ander word gehou om te probeer om die vrystelling van kweekhuisgasse aan bande te lê, maar min sukses is tot dusver behaal.