geografiese koördinaatsisteem — Afrikaans
’n Verwysingstelsel waardeur die presiese ligging van enige punt of verskynsel op die aardoppervlak akkuraat beskryf kan word. Aangesien die Aarde nie ’n plat vlak is nie, maar ’n sfeer, kan ’n kartesiese ruitnet nie gebruik word nie (kyk “Cartesian coordinates”). Gevolglik moes geograwe ’n soortgelyke verwysingstelsel ontwikkel, maar een wat wel op ’n sfeer sal werk. ’n Ruitnet werk perfek om ligging te beskryf want elke punt se ligging op die ruitnet word deur twee unieke koördinate beskryf. Geograwe moes dus ’n netwerk, of ruitnet, wat op ’n sfeer werk, ontwikkel. Die geografiese koördinaatstelsel bestaan uit ’n verbeeldingsnetwerk, of -ruitnet, van twee stelle reguit lyne. Die een stel strek in ’n noord-suid-noord rigting rondom die Aarde en die ander een in ’n oos-wes-oos rigting. Die noord-suid-lyne is die lengtelyne (of meridiane), en die oos-wes-lyne is die breedtelyne (of “paralelle”). Die hoof-meridiaan, of die Greenwich-meridiaan (of Greenwich-lyn, wat deur Greenwich in Engeland loop) is die 0°-lengtelyn wat die Aarde in ’n westelike en oostelike halfrond verdeel. Die hoof-breedtegraad is 0°-breedtelyn, oftewel die ewenaar, wat die Aarde in ’n suidelike en ’n noordelike halfrond verdeel. Die noordpool en die suidpool is onderskeidelik die 90°N en 90°S breedtelyne, hoewel hulle nie lyne is nie, maar wel punte. Wanneer die absolute ligging (kyk “absolute location”) van ’n plek of ’n punt beskryf word, word die breedtekoördinaat eerste verstrek en die lengtekoördinaat tweede, byvoorbeeld 25°S32°N, of 18°N72°W (kyk “absolute location” onder “location”). Dit is wat algemeen – maar nie amptelik nie – die Lat-Lo-reël genoem word. Een uitsondering op hierdie reël is die grootskaalkaarte van die British Ordinance Survey waar die lengtegraad eerste verstrek word en breedtegraad tweede. Op hierdie kaarte word lengtelyne “eastings” genoem en breedtelyne word “northings” genoem.