geodiversiteit — Afrikaans

Die veranderlikheid van geografiese attribute oftewel eienskappe of kenmerke (veranderlikes) van een plek of tyd na ’n ander. Met ander woorde, een en dieselfde eienskap (veranderlike) verskil plek tot plek en in een en dieselfde plek verskil dit van tyd tot tyd. Die globale omgewing vertoon eindelose variasie oor ruimte en oor tyd. Dit is dus duidelik dat gevolgtrekkings wat in een gebied gemaak word, nie summier na enige soortgelyke gebied geëkstrapoleer kan word nie (dit wil sê, as van toepassing in ’n soortgelyke gebied aanvaar kan word nie). Die feit dat daar soveel geodiversiteit op Aarde is, is die idiografiese beginsel (uniekheidsbeginsel) wat een van die belangrikste kernbeginsels van geografie as ’n studieveld is. Net soos in baie ander wetenskappe word daar altyd in geografie veralgemeen en groepe geïdentifiseer, maar in geografie mag die idiografiese beginsel egter nooit uit die oog verloor word nie. Geen twee woestyngebiede is in alle opsigte presies eenders nie; geen twee soortgelyke woude is in alle opsigte presies eenders nie. Dit geld vir alle natuurgebiede. Netso, verskil stede grootliks van mekaar en van area tot area in een stad. Die eienskappe van alle gebiede op Aarde – ongeag hoe groot of hoe klein – bestaan uit ’n unieke stel attribute (eienskappe) en ons kan dus nooit aanneem dat dít wat op een plek of gebied van toepassing is, op enige ander soortgelyke plek van toepassing is nie. Verskillende gebiede mag sekere eienskappe gemeen hê, maar die einste gebiede kan ander eienskappe hê wat geheel en al van mekaar verskil. Die grondliggende geografiese beginsel van ruimtelike variasie en veranderlikheid omvat hierdie werklikheid (kyk “spatial variation”).