GMO, geneties gemanipuleerde organisme — Afrikaans

’n “Nuwe” lewende plant of dier wat in ’n laboratorium deur wetenskaplikes geskep is deur middel van doelbewuste inmenging met die chromosome van ’n bestaande plant of dier. Die chromosome van die DNA van enige organisme is die proteïen wat die genetiese identiteit van die organisme dra. Enige wysiging wat aan die chromosome van ’n organisme aangebring word, verander die organisme na ’n ander (“nuwe”) organisme. Die tegnologie behels nie dat ’n volwasse individu se chromosome gemanipuleer word en dat daardie individu dan as ’n “veranderde” volwasse individu voortleef nie — dit gebeur net in wetenskapsfiksierolprente. In die werklikheid word die chromosoomwysigings aangebring en uit daardie gewysigde DNA word nuwe individue geteel. GMO-tegnologie is nog relatief jonk en is oor die afgelope twee dekades ontwikkel. Dit is eties aanvegbaar en steeds hoogs kontroversieel. Diep-ekoloë vind dit heeltemal onaanvaarbaar (kyk “ecocentrism” en “environmentalist”). GMO-tegnologie moet nie verwar word met die eeu-oue teling en kweking van nuwe variante van bestaande plant- en dierspesies deur die vermenigvuldiging van ’n onverwagte natuurlike mutant of deur die kruisteling van verskillende variante van een en dieselfde spesie of naverwante spesies van dieselfde organisme nie. Hierdie prosesse van variant- en spesieskepping kon net sowel in die natuur plaasgevind het, sonder enige menslike betrokkenheid. Sedert die vroegste tye het mense variante van bestaande plante en diere geteel enn gekweek. Sedert die 1950’s het wetenskaplikes talle nuwe variëtiete plante en diere geskep en daardie variëteite is vandag die graan- en veevariante wat in kommersiële landbou gebruik word. Die hoë-produksie, plaagbestande, droogte- of koue-bestande variëteite van graangewasse wat tans oral in die wêreld verbou word, is uit bestaande spesies geteel of gekweek. Sonder hierdie variant-spesies sou ons nie die wêreldbevolking kon voed nie. Omgewingsgesindes het geen beswaar een nuwe variante en spesies wat geskep word sonder die direkte inmenging met die chromosome van enige organisme nie, maar hulle teken ernstig beswaar aan teen variante en spesies wat deur GMO-tegnologie geskep is. Of GMO”s ooit algemene aanvaarding sal geniet, is nog ’n sensitiewe en debatteerbare vraagstuk.