fossielbrandstof — Afrikaans

Alle brandstowwe wat hul oorsprong aan die fossilering van lewende organismes ontleen. Drie hoof tipes kan onderskei word, naamlik: a) steenkool, kooks (baie hoë gehalte steenkool), en bruinkool (lae gehalte steenkool), b) olie en olieskalie, en c) gas (soos metaangas). Die eerste groep ontstaan deurdat plantorganismes wat sterf en in vlak varswater moerasse en vleie afgeset word, deur sedimente bedek word en onder hoë druk oor miljoene jare na steenkool verander. Die tweede groep ontstaan wanneer mikroskopiese seediertjies sterf, na die bodem sink, deur oseaansedimente bedek word en onder hoë druk oor duisende of miljoene jare na verskeie vorme van brandstowwe soos olie, oilieskalie en keroseen (paraffien) verander. Gas is met albei groepe geassosieer. Alle fossielbrandstowwe is gehidrateerde koolstowwe (dit is, verskeie verbindings van koolstof en waterstof). Let op dat alle fossielbrandstowwe oor uiters lang periodes gevorm word. Indien ons al die beskikbare reserwes opgebruik, kan ons nie verwag om ’n paar jaar later weer nuwe voorrade te hê nie. Let ook op dat die chemiese samestelling van fossielbrandstowwe bepaal dat koolstof- en waterstofverbindings in die atmosfeer vrygelaat sal word wanneer hierdie brandstowwe verbrand word.